Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 25 DESEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

137 kHz SEIN UIT DUITSLAND IN ALASKA GESIEN

NUWE TYD VIR AMATEURRADIO VANDAG SE UITSENDING OP MAANDAGAANDE

ARISSAT-1 SENDING MAG OP 31 DESEMBER EINDIG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

DIS KERSFEES

Die President en Raad van die Suid-Afrikaanse Radioliga asook al die koördineerders en die nuusspan wens al sy lede en luisteraars ’n ’n geseënde Kersfees toe en ons Joodse lede en luisteraars ’n gelukkige Hanukkah. Mag die gees van hierdie spesiale tyd van die jaar u almal aanraak. Gelukkige vakansietyd.

137 kHz SEIN UIT DUITSLAND IN ALASKA GESIEN

Byna 10 jaar het verloop sedert ’n laefrekwensiesein uit Europa in Alaska ontvang is. Nou is die RF, wat deur Stefan Schaefer,DK9FC, van Heidelberg, Duitsland, opgewek is, op 136,172 kHz by die afstandbeheerde stasie van Laurence Howell, KL7UK, naby Wasilla in Alaska gesien.

Howell besit ook die VK-roepsein G4DMA. Hy het Spectrumlabprogrammatuur gebruik om Schaefer se uitsending te dekodeer. Met die stelsel is ’n volle roepsein met gebruik van ’n tweefrekwensie, 30 sekonde per punt, GG gesien.

Dit word geglo dat hierdie ’n eerste is vir ’n transpoolse pad aangesien dit die noorderligpad tweekeer moet kruis. Toestande moet baie stabiel wees met lae geomagnetiese en protonvlakke en die pad blyk slegs in die diepste deel van die winter oop te wees.

KL7UK, wat lid is van die WE2XPO lae frekwensie eksperimentele groep, gebruik ’n tweelus gerigte K9AY opstelling en ’n afstandinstembare ICOM R75 ontvanger wat hy van sy tuiste in Bartlesville, Oklahoma beheer. DK7FC in Duitsland het baie min Watt effektief uitgestraal.

Die laaste seine langs hierdie pad is in 2003 laas gesien. Toe het G3AQC, G3LDO en DF6NM van hierdie skaars baan gebruik gemaak. Meer aangaande hierdie lae frekwensie uitsendings is aanlyn beskikbaar by kl7uk.com. (KL7UK).

Die 137 kHz band is vir Suid-Afrikaanse amateurs beskikbaar. Indien u met 137 kHz eksperimenteer, sal ons graag van u wil hoor. Stuur ’n e-pos aan artoday@sarl.org.za.

NUWE TYD VIR AMATEURRADIO VANDAG SE UITSENDING OP MAANDAGAANDE

Vanaf Maandag 2 Januarie sal die tyd vir die heruitsending van die program ‘Amateurradio VANDAG’ verander na 17:30 – 18:30 UTC, dit is 19:30 – 20:30 SAT. Die uitsending sal in die 60 meter band op ’n frekwensie van 4 895 kHz. bly. Die sender sal 100 kW aan ’n ongerigte antenna lewer. Ontvangsrapporte sal waardeer word en dit kan per e-pos gestuur word na artoday@sarl.org.za. Alle rapporte oor die uitsending op 2 Januarie wat teen 5 Januarie ontvang word, sal deelneem aan ’n gelukstrekking vir ’n boek van die ARRL oor RF-steurings. ’n Rapport kan ook per faks gestuur word aan 012 991 5651.

ARISSAT-1 SENDING MAG OP 31 DESEMBER EINDIG

ARISSAT Een mag vroeër as voorspel uit sy baan val. Jim De Young, N8OQ, rapporteer op die aanlyn bulletinbord van AMSAT dat die nuwe skatting vir die binnekoms van ARISSAT 31 Desember plus of minus 3 dae is.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit laag is met 'n geringe kans vir 'n M-klas fakkel. Sonvlek 1 384 is nog steeds die grootste sigbare sonvlekgroep. Verder is die son se oppervlakte oortrek met kleiner sonvlekke wat gunstige HF-toestande verseker.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 92.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie TEP-openinge van tyd-tot-tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Januarie 2012 – Laaste dag vir indiening van voorgestelde aanbiedings vir Radiotegnologie-in-Aksie-Simposiums 2012 na artoday@sarl.org.za.
31 Januarie 2012 - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie 2012 - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za.
Onthou ook om nominasies in te stuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003